Of jy nou pas graad gekry het, ‘n paar jaar uit die mark was of naby aftrede is, om werk te soek is uitdagend. Sorg dat jy die top-kandidaat is
Kry werk in elke fase van jou lewe!

Vandag se werkwêreld verander aanhoudend, en dis soms moeilik om te weet wat werkgewers wil hê – of wat jý wil hê.

Die dae waar jy jou lewe lank in een pos by een maatskappy
bly, is egter verby, en dis nie vreemd om ‘n paar jaar heeltemal op te hou werk of selfs ‘n nuwe loopbaan te begin nie – ongeag jou ouderdom. En wat ‘n wonderlike voorreg, sê Toy Joubert, ‘n loopbaanafrigter van Pretoria. "Vandag is ons almal op ‘n ewigdurende reis om ons potensiaal te ontdek en uit te brei."

Maar dit is nie altyd eenvoudig nie. Jy het dalk reeds besluit jy moet eenvoudig ‘n verandering maak, maar weet nog nie presies hoe nie, of jy sukkel dalk om nuwe werk te kry. Só moet jy maak, sê die kenners.

1: Jy het pas jou studies voltooi en jou CV wyd en syd uitgestuur, maar jy hoor niks …

Indien jy nog geen ondervinding het nie, kan jy nie kieskeurig wees nie, sê Toy Joubert. "Vaardighede is nou die belangrikste. Kry dus so vinnig moontlik werk – al is dit nie in jou gekose veld nie – sodat jy ondervinding kan opdoen.

Dit sal karakter wys, wat jou beter sal laat vaar indien jy dan om ‘n werk aansoek doen wat jy wel graag wil hê. Jy kan dan bewys jy is betyds, doen jou werk volledig, jy het inisiatief en deursettingsvermoë."

Celeste Hattingh (28) van Johannesburg het dié roete gevolg. Sy voltooi tans ‘n B.A.-graad in opvoedkunde, maar werk deeltyds as administratiewe assistent.

"Ek het geld nodig gehad om my studies te betaal, maar ek het ook gedink dit sal goeie ondervinding wees. Ek leer baie nuwe vaardighede wat my sal help wanneer ek begin aansoek doen vir werk in my rigting, soos hoe om verskillende mense te hanteer en ook hoe om verdraagsaam te wees wanneer hulle moeilik is – iets wat beslis sal help in opvoeding!"

Die ideaal is dat jy soos Celeste reeds begin werk terwyl jy studeer, of ‘n internskap doen. Stel dan ‘n indrukwekkende CV en aansoekbrief saam, sê Heidi Duvenage, ‘n werwingspesialis en eienaar van die werwingsmaatskappy SkillsMap.

"Werwers lees daagliks honderde CV’s en byna almal bevat woorde soos ‘lojaal’ en ‘hardwerkend’. Pas jou CV aan vir elke aansoek en dink oor wat jou perfek maak vir die spesifieke pos."

Sluit dan jou kontakbesonderhede, opvoeding, prestasies, werksondervinding en vaardighede (soos rekenaarprogramme) in, en lys ook werksverwysings – nié vriende en familie nie.

Sy sê ook jou CV moet professioneel lyk. Moenie vreemde lettertipes of kleure gebruik nie.

Indien jy vir ‘n onderhoud genooi word, oefen voor die tyd, sê Jeannette van Dyk, ‘n sielkundige van Johannesburg. "Werk antwoorde op moontlike vrae uit sodat jy kalm kan antwoord. Werkgewers soek iemand wat bekwaam lyk. Sit dus regop, maak oogkontak en glimlag. Doen navorsingoor die maatskappy en vra ‘n paar ingeligte vrae oor die pos waarvoor jy aansoek doen."

Onthou, jy het dalk nie ondervinding nie, maar jy het vars idees, is gretig om te leer, verstaan tegnologie en jy’s aanpasbaar – dít alles tel in jou guns, sê Menanteau Swart, ‘n bedryfsielkundige van Kaapstad.

2: Jy het ‘n paar jaar tuis gebly om ‘n gesin te begin en wil nou weer die mark betree

Leilani Basson, ‘n joernalis van Johannesburg, het ná tien jaar se gesukkel uiteindelik in 2012 swanger geword.

Hoewel sy beplan het om kort ná die geboorte van haar dogter, Sabria, weer te gaan werk, het sy uiteindelik daarteen besluit. "My werk as ‘n reis- en leefstyljoernalis het baie tyd weg van die huis af geverg, en ek kon dit nie oor my hart kry om haar tuis te los nie."

Sy het bedank en as vryskutjoernalis begin werk, met die plan om later weer permanent te werk, of haar eie onderneming te begin.

Dit kan ‘n goeie oplossing wees vir vroue wat graag op hul gesin wil fokus, sê Nike Wadds, ‘n loopbaanafrigter van Kaapstad en eienaar van Stand Tall Consulting. "Bly ingelig oor ontwikkelinge in jou bedryf terwyl jy nog tuis is en, indien moontlik, kan jy vryskutwerk van die huis af doen en ‘n aanlyn- of kortkursus in jou veld voltooi. As jy nie tyd het om te werk nie, kan jy dalk ‘n werksblog begin sodat potensiële werkgewers kan sien jy het op datum gebly."

Wanneer jy dan weer om werk aansoek doen, moet jy jouself voorberei om moontlik teen ‘n laer salaris te begin. Jou ondervinding sal jou wel help om vinnig weer op te beweeg. "Fokus in die onderhoud op jou bereidwilligheid om te leer en jou loopbaan te bevorder. Wys jy is weer werkgereed en verduidelik hoekom dit wat jou laat bedank het, nie sal inmeng nie." (Jy het byvoorbeeld ‘n voltydse kinderoppasser aangestel.)

Toy sê jy het niks om oor skaam te wees ná jou bedanking nie. Dit was jou keuse om die mark te verlaat en jy het nuwe vaardighede aangeleer, soos om as nuwe ma jou organisatoriese vermoëns te verbeter, en om vinnig besluite in noodsituasies te neem.

Jeannette sê jy moet jouself ook voorberei om aanpasbaar te wees wanneer jy weer begin werk. "Soms sal jy oorweldig voel deur die hoeveelheid nuwe inligting waarmee jy vertroud moet raak. Hou moed, jy het reeds baie kennis en vaardighede opgebou en jy sal weer alles onder die knie kry."

3: Jy was meer as tien jaar uit die arbeidsmark, maar voel nou weer reg vir ‘n uitdaging

Heel waarskynlik het jou prioriteite oor die laaste paar jaar verander, sê Nike. Dikwels is finansies nie meer die grootste motivering nie, en jy kan dit dalk oorweeg om deeltyds te werk, ‘n besigheid te begin of geld uit ‘n stokperdjie te begin verdien.

Toy stel voor jy "pak ‘n persoonlike reis aan" en vind uit wat jou nuwe belangstelling is. Doen psigometriese toetse en navorsing oor dít wat jou interesseer. "Jy het gegroei en verander en jy hoef jouself nie te dwing om weer dieselfde werk as voorheen te doen nie. Dink oor wat jy geniet, en verskerp dan jou vaardighede deur kortkursusse."

Heidi sê hoewel jy in dié stadium dalk sukkel met vertroue in jou werkvermoëns, is werkgewers nie gekant teen iemand wat lank uit die mark was om eers ander drome te volg nie. Inteendeel, jou fokus is nou net op jou en jou loopbaan eerder as die kinders of ander projekte, en daardie lojaliteit is ‘n aanwins vir ‘n werkgewer."

Fokus in jou CV en onderhoud op jou doelwitte en sterk punte eerder as jou ondervinding van jare gelede, en moenie gate los vir die tydperk wat jy nie gewerk het nie. Verduidelik hoekom jy opgehou het en wat jy in dié tyd geleer het, sê sy.

Dit gaan ‘n groot aanpassing wees om weer te werk, en as jou kinders skielik uit die huis is, kan dié veranderinge lei tot depressiewe gevoelens, sê Jeannette. "Jy twyfel dalk aanvanklik in jouself en wonder of dit die moeite werd is om voor te begin. Maar dié nuwe fokus op jou loopbaan of stokperdjie kan jou weer laat voel dat jou lewe nuwe sin het."

4: Jou aftreepakket is byna gefinaliseer, maar jy voel te jonk om op te hou werk en kan nog baie bied

Suid-Afrikaanse wetgewing reguleer nie aftree-ouderdom nie, sê Heidi. Indien jy egter ‘n kontrak geteken het of die maatskappy ‘n beleid het oor ‘n aftree-ouderdom, kan hulle jou dwing. Indien nie, kan julle daaroor onderhandel.

As jy nie voltyds wil werk nie, maar ook nie lus het om net in die tuin rond te krap nie, het jy steeds baie opsies, sê Toy. "Op 65 het jy soveel kennis om te deel en dis belangrik om jou brein uit te daag. Oorweeg deeltydse of kontrakwerk, of om as konsultant in jou bedryf te werk. Jy het immers sakke vol ervaring.

"Dikwels wil mense in dié fase nie meer so hard werk nie en eerder terugploeg in die gemeenskap. Kyk dus wyd, hoe kan jy jou ervaring gebruik om ander te help? Skole, biblioteke en universiteite is dikwels op soek na mense wat inligting oor hul bedryf kan deel, of uithelp met gemeenskapsprojekte."

Tog is pensioenfondse is nie meer wat hulle was nie en baie mense moet nog ná aftree-ouderdom werk, sê Nike. "Ons lewe langer en dus is dit belangrik om te begroot vir die toekoms wanneer jy afgetree het. Jou lewenstandaard kan dalk afneem, en dan is deeltydse werk ‘n goeie idee as jy ekstra geld wil verdien en jouself wil besig hou."

Menanteau sê jy moenie jou ouderdom as ‘n hindernis sien nie. "Moenie op jou CV skryf jy is ‘65 jaar jonk’ nie. Jy het baie kennis en ondervinding, dis ‘n aanwins."

5: Jy oorweeg ‘n loopbaanverandering. Maar hoe gemaak as jy bv. van jou pos as verkoopsassistent na modeontwerper wil skuif?

Begin by jouself, nie jou werk nie, sê Toy. Leer jouself ken en gesels met mense wat jou goed ken oor jou sterk punte. "Indien jy nie gelukkig is in jou loopbaan nie, moet jy iets soek wat al ses fasette van loopbaangeluk insluit. Dié fasette is passie, ‘n groter doel (nie net ‘n salaris nie), iets wat jou belangstelling prikkel, iets wat jou aangeleerde vaardighede gebruik, iets wat met jou waardes strook, en jou talente (enigiets wat jy van kleins af maklik kon doen) gebruik."

Volgens dié lys kan stokperdjies soos fotografie dalk ‘n belangstelling wees, maar nie iets wat jy heeldag wil doen nie.

Wanneer jy om ‘n nuwe werk aansoek doen, moet jy op jou CV wys hoe jou ondervinding van waarde is, sê Heidi. As jy byvoorbeeld ‘n sprong van die verkoopswêreld na mode-ontwerp maak, het jy nie verwante ondervinding nie, maar jy weet dalk baie oor menseverhoudings of risikobestuur, en jy is bereid om hard te werk en te leer.

Wees egter realisties, sê Jeannette. ‘n Mediese rigting kan interessant klink, maar verg jare se studie. "Neem ook jou persoonlikheid in ag. As jy goed is met administratiewe take, maar hou van mense, kan administratiewe rekenaarwerk jou dreineer," sê sy.

Leilani, die joernalis van Johannesburg, het nog nie weer ‘n permanente pos oorweeg nie omdat haar vryskutwerk
soveel ander deure oopgemaak het. Sy het eers meer aandag gegee aan een van haar projekte by haar vorige werk, ‘n
avontuur- en buiteleweklub vir vroue genaamd Bush Babes Adventure and Outdoor Club (www.bushbabes.co.za), wat sy op die been gebring het. Dit het so goed gegaan dat sy besluit het om dit oor te neem en te privatiseer. "As ek nie swanger geword het nie, sou ek waarskynlik steeds permanent gewerk het, hoewel ek al lankal my eie onderneming wou hê."

Sy het ook haar joernalistieke vaardighede ingespan om ‘n buitelewe-en-avontuurpublikasie te begin, wat nou al 16 000 lesers het (www.bushtelegram.co.za). Haar doelwit is om 20 000 te hê teen volgende jaar.

Wanneer jy jou besluit geneem het, moet jy doelwitte en ‘n tydlyn opstel soos Leilani gemaak het, sê Nike, sodat jy kan sien óf en hóé jy vorder. "Ek is nou nog besiger as tevore, maar ek is mal daaroor en ek kan Sabria oral saamneem. Dit was beslis die regte besluit," sê Leilani.

About The Author

Pica-commended freelance journalist Delia du Toit writes features for various national and international publications, focusing on the fields of health and psychology. A written word-junkie and avid reader, she also produces custom corporate magazines and newsletters, studies new languages for no good reason, and daydreams about finally finishing a novel

Contacts:

Jeannette van Dyk: www.wellbeingconsulting.co.za
Toy Joubert: www.careerchange.co.za
Menanteau Swart: menanteau@hrsa.co.za
Nike Wadds: www.standtallconsulting.co.za
Heidi Duvenage: www.skillsmapafrica.com

SHARE IT:

Comments are closed.